![]() |
|||||
| << TERUG NA HOOFBLAD | |||||
NUUSBRIEF – JULIE 2010 Let asseblief daarop dat die AGV se September opknappingskursus vir opvoedkundige eenhede op Vrydag en Saterdag 10 en 11 September 2010 plaasvind. ’n Inskrywingsvorm verskyn op die laaste bladsy van hierdie nuusbrief – maak gerus gebruik daarvan en skryf sonder versuim in. Sodra die program gefinaliseer is, sal dit aan u gestuur word.
Die laaste demokratiese verkiesing van lede van die Geneeskundige en Tandheelkundige Beroepsraad (GTBR) het aan die einde van 2003 plaasgevind. Die verkiesing van lede van die elf ander beroepsrade het terselfdertyd plaasgevind. Hierdie GTBR se termyn het in Februarie 2009 ten einde geloop. Intussen is die wet, vaarvolgens die Raad saamgestel word, verander. Die Raad sou nie meer deur lede van die beroep verkies word nie, maar deur die minister van gesondheid aangestel word. Voordat die wet gewysig is, het die GTBR eenparig by twee geleenthede heftig daarteen beswaar gemaak dat die Raad nie meer demokraties deur lede van die beroep verkies sou word nie. Beswaar is ook beklemtoon dat die twee beroepe dan nie meer hulself sal reguleer nie, maar wel deur die minister gereguleer sal word. Die besware is egter geïgnoreer. Voordat die gewysigde wet geproklameer is, het die verandering van minister van gesondheid twee maal plaasgevind. Die gevolg was dat die nuwe raad nou nog nie aangestel is nie. Aan die begin van 2009 en weer 2010 is briewe deur die registrateur van die Raad op Gesondheidsberoepe (RGB) aan die raadslede, wat in 2003 verkies is, gerig. In hierdie briewe is die raadslede versoek om nog te ageer as lede totdat die nuwe raad aangestel word. Dit het tot gevolg gehad dat in elk van hierdie twee jare net een vergadering van die ou raad plaasgevind het, waar omtrent net besluite van uitvoerende bestuur bekragtig is. Die beroep het dus eintlik sonder ’n regulerende raad gefunksioneer, slegs met ’n uitvoerende bestuur. Daar kan bespiegel word wat sal gebeur as ’n praktisyn wat deur die Raad van onprofessionele gedrag aangekla word, ’n hofbevel aanvra en aanvoer dat die Raad nie behoorlik aangestel is nie en derhalwe nie die jurisdiksie het om hom aan te kla en te verhoor nie. | TERUG NA BO | In die Januarie 2010 nuusbrief is redelik omvattend berig oor die Nasionale Gesondheidsversekeringstelsel (NGV). Sedertdien het min positief gebeur, maar baie negatiewe vooruitskouings bekendgemaak. Waar vantevore geskat is dat die NGV jaarliks R100 biljoen sal kos om te bedryf, raam sekere sogenaamde gesondheidsekonome dit nou of R244 biljoen per jaar. Daar word dan bygevoeg dat belasting met 37% verhoog gaan word om die NGV in te stel. Een gesondheidsekonoom het verklaar dat in die lande waar ’n gesondheidstelsel, vergelykbaar met wat die ANC hier beoog, bestaan, die gemiddelde inwoner ’n hoë netto inkomste het. In Suid-Afrika verdien glo slegs 11% van die bevolking ’n belasbare inkomste. Slegs 8% van swart Suid-Afrikaners behoort aan siekefondse teenoor 64% blankes. Die bekende ekonoom, Mike Schüssler, het onlangs verklaar dat Suid-Afrika op ’n ramp afstuur. Hy meld dat 15 miljoen mense in Suid-Afrika van staatstoelaes leef, terwyl slegs 5 miljoen belasting betaal. Nêrens in die wêreld is daar ’n land wat naby so iets kom nie. Om alles te kroon, beplan die regering om ook ’n staatstoelae vir elke jeugdige wat nie werk nie, in te stel. | TERUG NA BO | Gruverhale
verskyn gereeld in dagblaaie oor haglike toestande in staatshospitale.
Basiese voorrade soos seep, handdoeke, chirurgiese handskoene, ontsmetmiddels
en gewone minimum vereiste medisynes is nie beskikbaar nie, om nie eens
te noem nie dat by talle hospitale ’n pasiënt sy eie beddegoed
moet saambring as hy opgeneem moet word omdat beddegoed vinniger weggedra
word as wat dit vervang kan word. Skoon, netjiese higiëniese fasiliteite
bestaan net nie meer nie. Onlangs was dit in die nuus dat Baragwanath hospitaal meer as ’n dag lank sonder krag was omdat elektriese kabels gesteel is. Die noodkragopwekkers kon nie werk nie want hulle het nie dieselbrandstof gehad nie. ’n Mediese tydskrif het bekendgemaak dat 240 pasiënte onlangs in die Edendale hospitaal, naby Pietermaritzburg, dood is. Die pasiënte is gemiddeld binne vier dae na opname in die hospitaal dood – 94% van hierdie pasiënte was MIV positief en 50% het tuberkulose gehad. Amper die helfte van dié pasiënte wat tuberkulose gehad het, het geen medikasie daarvoor gebruik nie. Minder as die helfte van die wat MIV positief was, was op anti-retrovirale middels. Die oorledenes was almal tussen 28 en 38 jaar oud. In die plaaslike voorgeboorteklinieke is gevind dat 36% van die swanger vroue MIV positief getoets het. ’n Jong dokter het in ’n mediese tydskrif geskryf dat hy sy gemeenskaps-diensjaar in ’n landelike hospitaal gedoen het. Aanvanklik was hy vol entoesiasme en gehoop dat hy en die dokters waarmee hy sou saamwerk ’n groot verskil in die lewens van die mense in dié landelike gebied sou maak. Mettertyd het hy egter ontnugter geraak, soos wat hy bewus geword het van al die onoorkomelike doodloopstrate in die gesondheidstelsel. Hy het ’n lys van sy waarnemings en gevolgtrekkings gemaak, waaronder die volgende:
Hy sluit dan af deur te sê dat geen NGV kan slaag sonder behoorlik funksionerende hospitale nie, wat, soos sake nou staan, onmoontlik lyk – daarom emigreer hy nou. | TERUG NA BO | Sedert die Wet, waarvolgens Verpligte Minimum Voordele (VMV) ingestel is, in werking getree het, is al baie daaroor gedebatteer. Dit behels natuurlik die verpligting wat op mediesefondse gelê word dat 26 chroniese siektetoestande en 270 siektes erken en voor betaal moet word. Die Wet bepaal dat betaling daarvoor nie van ’n lid se spaargeld afgetrek mag word nie. Sommige mediesefondse doen dit nogtans, en as ’n lid nie wakker is nie, ly hy skade. Die Raad op Mediese Skemas (RMS) het erken dat sommige skemas doelbewus hierdie verpligting ontduik. Verlede jaar het die RMS meer as 4Ê500 klagtes van lede ontvang oor mediesefondse wat nie sodanige rekeninge betaal nie. Aan die ander kant beweer die fondse dat dokters die Wet as ’n “oop tjekboek” misbruik. Sommige kla dat die regulasies vatbaar is vir verskillende vertolkings. Nog ’n probleem waaroor beswaar gemaak word is: wanneer ’n toestand met behulp van medikasie onder beheer is, weier sommige fondse om verder daarvoor te betaal. Onlangs het verteenwoordigers van die departement van gesondheid die RMS, geneeshere en lede van fondse byeengekom en beraadslaag om ’n oplossing te probeer vind. ’n Taakspan is toe aangestel wat die aangeleentheid moet ondersoek en aanbevelings moet maak. | TERUG NA BO | Daar is al tevore in die nuusbrief berig oor die klag van onprofessionele gedrag wat deur die Raad op Gesondheidsberoepe (RGB) teen dr Wouter Basson ondersoek word. Tydens die ondersoek tot dusver, het prof S Benatar, as deskundige getuie vir die Raad, uiteindelik onder strawwe kruisondervraging, toegegee dat hy nie kan sien hoe dr Basson skuldig gevind kan word nie. Die aanklaer het toe ’n ander deskundige getuie geroep, maar voor die ondersoek hervat kon word, het die registrateur van die Raad, adv Mkize probeer om die Raad op ’n onbehoorlike wyse te beïnvloed teen dr Basson. Dr Basson se regsverteenwoordiger, adv Jaap Cilliers, het hom toe tot die Hooggeregshof gewend en aansoek gedoen dat die saak teen dr Basson teruggetrek word weens kwade trou deur die registrateur. Regter Bertelsman het bevind dat die komitee geen aanduiding gegee het dat hulle bevooroordeeld is nie en dat dr Basson ’n regverdige verhoor behoort te hê en dat die ondersoek kan voortgaan. Die datum vir die voortsetting van die ondersoek is nog nie bepaal nie, maar dit behoort eersdaags te wees. Mnr Jaap Cilliers kan dan die tweede deskundige getuie van die Raad onder kruisverhoor neem, of hy kan selfs beswaar maak dat die aanklaer nie aan die regulasies voldoen nie. Hy moes voor die aanvang van die ondersoek kennis gegee het watter getuies hy gaan roep. Toe het hy slegs kennis gegee van prof Benatar. Indien mnr Cilliers hierdie roete volg, sal die komitee moeilik vir dr Basson kan skuldig bevind sonder getuienis dat hy skuldig is. Prof Benatar se getuienis bevestig dan juis dat hy onskuldig is. Hoe die saak verder gaan verloop, behoort baie interessant te wees, en ewe interessant om daarop te let dat dr Basson steeds in diens van die weermag is en die Staat nog steeds al sy regskoste dra. | TERUG NA BO | Amerikaanse werkgewers lê al hoe meer klem op gesonde leefstyl gewoontes by hulle werkers. Die pos van bestuurder van korporatiewe gesondheid is by talle maatskappye ’n algemene verskynsel. Verskeie vorms van aansporings word gebruik om werknemers te oorreed om op te hou rook, massa te verminder, aan oefenprogramme en programme vir gesondheidsverbetering deel te neem. Finansiële aansporing, en in sommige gevalle, finansiële boetes, word ook van gebruikgemaak. Werkgewers doen dit om stygende uitgawes te probeer beperk, wat gepaardgaan met afwesigheid weens siekte, verhoogde mediese koste en verlies aan produktiwiteit. Werkers word finansieel vergoed en gesondheidsorgpremies verlaag wanneer aan gesondheidsverbetering programme deelgeneem word, terwyl talle maatskappye werkers beboet wat nie deelneem nie, of hul mediesefonds premies word verhoog. In Suid-Afrika is daar wetgewing wat maatskappye verbied om enige diskriminerende maatreëls in te stel. Maatskappye doen egter positief heelwat deur werkers finansieel of met ekstra verlof te vergoed vir gesonde leefstyl maatreëls. | TERUG NA BO | Daar is al dikwels in hierdie nuusbriewe berig oor die nuwe riglyne van die Raad op Gesondheidsberoepe (RGB) dat geen geneesheer wat nie volledige opleiding en ondervinding in kosmetiese chirurgie gehad het, sodanige prosedure mag uitvoer nie. Tydens die AGV se opknappingskursus in Maart 2010 het dr J D (Googs) Erlank, wat as ombudsman vir die Kosmetiese en Rekonstruktiewe Chirurgiese Vereniging optree, ’n lesing aangebied. Hy het met talle voorbeelde gewaarsku dat al hoe meer klagtes gelê word deur pasiënte, wat kosmetiese prosedures ondergaan het, met teleurstellende en selfs verminkende resultate. Onlangs het daar ook verskeie berigte in dagblaaie verskyn oor onvoldoende gekwalifiseerde geneeshere wat deur die RGB se gedragsondersoek-komitees skuldig bevind en gestraf is, omdat kosmetiese prosedures skeefgeloop het. Heelpartye ouer algemene praktisyns het oor die jare kosmetiese prosedures suksesvol uitgevoer. Die feit dat meer algemene praktisyns deesdae aangekla word, laat die vraag ontstaan of meer algemene praktisyns kosmetiese prosedures uitvoer en of pasiënte meer krities is, of gewoon net meer ingelig is dat ’n klag teen die geneesheer gelê kan word. Interessant om daarop te let dat mediesefondse nie maklik vir kosmetiese prosedures betaal nie. Die pasiënt is derhalwe verplig om self daarvoor te betaal. Die koste aan sulke prosedures kan aansienlik wees. Wanneer ’n pasiënt besluit om ’n kosmetiese prosedure te laat doen het sy gewoonlik ’n sekere verwagting van die resultaat. Indien sy teleurgesteld is daarmee, en dit het haar heelwat gekos, kan sy maklik besluit om ’n klag teen die dokter te lê. Regsverteenwoordigers raai dikwels ’n pasiënt aan om eers ’n klag by die RGB te lê. Indien die geneesheer skuldig bevind word aan onprofessionele gedrag omdat hy iets verkeerd gedoen het, nalatig was of net nie die voorgeskrewe opleiding gehad het nie, is die pasiënt se kans groter om te slaag met ’n siviele eis teen die geneesheer. | TERUG NA BO | Die Direkteur-Generaal van Gesondheid (DG) het onlangs aangekondig dat “ten minste” 39 seuns dood is tydens hierdie winter se inisiasierituele in die Oos-Kaap. Daarbenewens is talle in hospitale opgeneem weens sepsis van genitalieë, asook lugweginfeksies, gastro-intestinale infeksies en dehidrasie. Daar word gereeld berig oor komplikasies wat ontstaan weens sirkumsisie deur “selfverklaarde tradisionele chirurge”. Hierdie operateurs het geen benul van aseptiese prosedure nie en voer herhaaldelik operasies met ongesteriliseerde apparaat in die veld uit. Die DG sê verder dat dit moeilik is om sulke sterfgevalle te ondersoek omdat niemand daaroor wil praat nie want die rituele word as privaat, amper geheim, beskou. Hy sê ook dat die departement die mense se reg om hulle tradisies te beoefen, respekteer, maar dit moet onder aanvaarbare gesondheidstandaarde geskied. Dit het ook bekend geword dat die regering massa besnydenisveldtogte loods, nadat studies getoon het dat besnyding ’n man in ’n mate teen MIV oordrag beskerm. | TERUG NA BO | Die Suid-Afrikaanse Medisynebeheerraad (MBR) het in 2002 ’n sogenaamde ouditkennisgewing uitgereik waarmee hulle, ter wille van regulering, wou vasstel hoeveel alternatiewe medisyneprodukte op die mark is. Wanneer ’n vervaardiger, op grond van bogenoemde kennisgewing, die MBR van sy middel in kennis gestel het, het die MBR ’n kennisgewing van ontvangs uitgereik. Sekere vervaardigers van ongetoetsde kruiemiddels het hierna hierdie ontvangserkenning gebruik as ’n kwansuise registrasie van sy middel vir gebruik in die behandeling van MIV infeksie. Die MBR kennisgewing het slegs vir ses maande gegeld. Hulle ontvang egter nog gereeld voorleggings van nuwe middels en reik nog steeds erkenning van ontvangs daarvoor uit. Hierdie erkenning van ontvangs word dan weer op sy beurt misbruik, soos hierbo gemeld. ’n Tradisionele geneser van Zoeloeland bemark so ’n kruiemiddel onder die naam “Ubejane” (glo die Zoeloe naam vir renoster). Wat die verband tussen VIGS en RENOSTER is, kan mens maar net raai. Die geneser voer aan dat hy die resep vir die middel in ’n droom van sy oupa gekry het. Hy verklaar dat hy registrasie vir sy middel van die MBR het en grond dit op die ontvangserkenning van die MBR. Die Treatment Action Campaign (TAC) eis dat die MBR die 2002 kennisgewing terugtrek en nie meer erkenning van ontvangs vir die voorlê van ongetoetsde middels gee nie. Die MBR het verlede jaar oorweeg om die kennisgewing te herroep, maar ’n ander organisasie, die Health Products Association (HPA), wat hom beywer vir gesondheidsprodukte, het dit teengestaan. Die vervaardiger van Ubejane beweer dat sy middel Vigs pasiënte beter maak deurdat dit die pasiënt se CD4 telling verhoog. Die MBR het nog nie besluit wat om te doen nie. | TERUG NA BO | Dr Laura Middleton, ’n navorser van die Sunnybrook Health Science Centre in Kanada, doen reeds jare lank navorsing op vroue van alle ouderdomsgroepe, vanaf die tienerjare tot die vyftigerjare en dan latere jare. Sy vergelyk deurgaans die vroue se fisieke aktiwiteit met hul kognisie, om sodoende die doeltreffendheid van oefening tydens die onderskeie ouderdomstydperke te bepaal. Resultate van hierdie navorsing is onlangs in The Journal of the American Geriatrics Society gepubliseer. Haar navorsing het getoon dat vroue van jongs af moet oefen om verstandelike agteruitgang op ’n latere ouderdom te verminder. Sy het onder andere gevind dat oefening tydens die tienerjare die beste resultate gelewer het. Dit was egter ook bemoedigend dat vroue wat onaktief was in hul tienerjare, hul kans om verstandelik agteruit te gaan in hul latere jare, aansienlik verminder deur tussen die ouderdom van 30 en 50 aktief te raak. | TERUG NA BO | Die 20ste Wêreld Ekonomiese Forum het onlangs in Dar es Salaam, Tanzanië, vergader. Die sekretaris-generaal se spesiale gesant vir malaria, dr Raymond Chalmers, het daar verslag gedoen en gemeld dat meer as ’n miljoen sterftes per jaar voorkom as gevolg van malaria. Dit is ook die grootste oorsaak van afwesigheid in skole en by die werk. Hy het voorts gesê dat hul program om muskietnette aan almal “wat dit nodig het” te verskaf, teen die einde van die jaar, voltooi sal wees. Teen 2015 hoop hy sal malaria sterftes in Afrika hokgeslaan wees. Skeptici betwyfel dit egter, want muskiete byt of steek mense nie net wanneer hulle slaap nie. Die uitvoerende hoof van Standard Bank Afrika het in ’n verslag vermeld dat malaria sy maatskappy 6 miljoen dollar per jaar kos aan verlore inkomste weens afwesigheid en verlore produktiwiteit. Die president van Tanzanië het verklaar dat 30 tot 40% van alle pasiënte in Tanzaniese hospitale, malariagevalle is. | TERUG NA BO | Na jarelange debatvoering in Duitsland oor die kwessie van genadedood, het die hoogste siviele hof, die Duitse Federale Geregshof, sopas ’n mylpaal beslissing gemaak. ’n Prokureur, Wolfgang Putz, is ’n jaar gelede skuldig bevind aan poging tot manslag. Dit, nadat hy ’n vroulike kliënt aangeraai het om haar ma te help sterf. Die vrou het toe die lewensondersteunende apparaat afgeskakel, toe haar ma daarvoor gepleit het. Die Federale Geregshof het beslis dat ’n pasiënt se versorgers lewensondersteunende apparaat mag afskakel as die pasiënt dit wil hê. Al die aanwesiges in die hof het gejuig toe die regters hul uitspraak voorgelees het. Geneeshere en regsgeleerdes het die beslissing as ’n mylpaal verwelkom. Die minister van justisie het gesê dat die uitspraak regshelderheid bring oor ’n fundamentele vraag oor wat toelaatbaar is of verbied word wat bygestaande selfmoord betref. | TERUG NA BO | Die adjunk-redaktrise van ’n Australiese baba tydskrif, Mother and Baby, het ’n storm van verontwaardiging veroorsaak. Sy het in die tydskrif geskryf dat sy haar baba gebottelvoed het. As rede, het sy aangevoer, dat sy haar borste as deel van haar seksualiteit beskou; dit het haar laat gril om te dink dat haar borste, wat sy haar “fun bags” noem, en wat tevore net deur haar liefdesmaat hanteer is, nou deur haar baba gegryp gaan word. Na die geboorte van haar baba wou sy graag haar borste kans gee om op haar bors te bly en nie op haar maag te hang nie. Haar artikel het ’n hewige internet debat ontketen. Talle kritici het die artikel as onverantwoordelik veroordeel omdat dit borsvoeding in ’n negatiewe lig stel. Die redaktrise het daarop geskryf dat die tydskrif wel borsvoeding ondersteun, maar dat die artikel geplaas is om ’n stem te gee aan duisende vroue wat eenvoudig nie wil borsvoed nie. Hierdie vroue voel skuldig en vervreemd omdat borsvoedende vroue hulle veroordeel. | TERUG NA BO | Die privaat hospitaalgroep, Life Healtcare, is onlangs op die Johannesburgse Effektebeurs genoteer. Sodoende het dit die derde privaat hospitaalgroep geword wat genoteer is. Die ander twee is natuurlik Netcare en Medi-Clinic. Life Healthcare se markaandeel in Suid-Afrika se private hospitaal beddens is 27%. Hulle het aangekondig dat hulle uitbreidingsplanne in Suid-Afrika het, en veral in ontwikkelende markte soos die Midde-Ooste, Turkye en Indië. Hulle beoog onmiddellike uitbreiding in Swaziland en Namibië. Van die drie groepe is Medi-Clinic die grootste. Dié maatskappy het nou aangekondig dat hulle voortgaan met regte-uitgifte om R1,4 miljard in te samel om uitbreiding in Switserland te finansier. Medi-Clinic is reeds die grootste privaat hospitaalgroep in Switserland met ’n aantal hospitale met 1Ê365 beddens. Hulle beplan ook uitbreiding in Suid-Afrika deur R600 miljoen per jaar die volgende twee jaar te bestee en talle van hul bestaande hospitale op te gradeer. Hulle het ook belange in die Verenigde Arabiese Emirate en oorweeg om in Indië uit te brei. | TERUG NA BO | ’n Woordvoerder van die Nelspruitse Polisiëringsforum het bekend gemaak dat daar ’n groot toename in die Laeveld is in die handeldryf met menslike liggaamsdele. Mense word in Mosambiek en in die Laeveld vermoor, die liggaamsdele geneem en die res van die vermoorde se liggaam in die veld gelaat. Liggaamsdele word selfs geneem terwyl die persoon nog lewendig is. Daar word geglo dat hoe meer “lewend” die dele is, hoe beter. Die liggaamsdele word deur toordokters gebruik as “muti”. Veral liggaamsdele van kinders is baie gesog. Inligting word nie maklik gekry nie omdat die mense bang is hulle word getoor. Die polisiëringsforum het spesiaal honde opgelei om menslike liggaamsdele op te spoor.. | TERUG NA BO | |
|||||
![]() |
|||||
OPKNAPPINGSKURSUS, VRYDAG 10 en SATERDAG 11 September 2010 Vir meer inligting en inskrywingsvorms gaan na Kursusse skakel. U kan ook direk inskryf deur die onderstaande vorm in te vul. Vul asseblief
die antwoordvorm in en stuur u tjek so gou moontlik aan of betaal direk
in die A.G.V. bankrekening in by: Faks
dan u betaalstrokie aan (012) 348-8838 Vir program en drukbare
inskrywingsvorm: ANTWOORDVORM Vul asseblief in en pos terug na A.G.V. |
|||||
|
|
|||||
| Webwerf ontwerp en onderhou deur Exodon • 012 993 3260 • 082 4995491• exodon@iafrica.com | |||||