<< TERUG NA HOOFBLAD

NUUSBRIEF – JANUARIE 2012

BELANGRIK:

  • Let asseblief daarop dat die A.G.V. se Maart opknappings-kursus vir opvoedkundige eenhede op Vrydag en Saterdag 16 en 17 Maart 2012 plaasvind. ’n Inskrywingsvorm verskyn op die laaste bladsy van hierdie nuusbrief – maak gerus gebruik daarvan en skryf sonder versuim in.
  • Sodra die program gefinaliseer is, sal dit aan u gestuur word.

Program sal geplaas word sodra dit beskikbaar is.



  • Die Raad op Gesondheidsberoepe (RGB) het in sy jaarverslag statistiek verskaf en terugvoer gegee oor baie aspekte van die gesondheidsorgbedryf in Suid-Afrika.

    Daar is bekendgemaak dat 37 333 geneeshere by die raad geregistreer is. Hoewel hierdie dokters in Suid-Afrika geregistreer is, is dit onmoontlik om te sê hoeveel van hulle ook registrasie in die buiteland het en voltyds of deeltyds daar praktiseer. Die raad skat dat slegs ongeveer 19 000 van die 37 000-plus geregistreerde genees-here werklik in Suid-Afrika praktiseer.

    Dit is algemeen bekend dat daar ’n ernstige tekort aan geneeshere in alle gesondheidsorg dissiplines in staatshospitale en klinieke is. ’n Pediatriese sjirurg by Baragwanath hospitaal word aangehaal dat 30% van pediatriese sjirurge die afgelope twintig jaar die land verlaat het.

    Die registrateur verklaar dat Suid-Afrikaanse geneeshere oral in die wêreld gesog is. Dit verklaar hoekom so baie van ons dokters oorsee gelok word, waar die verdienste ook beter is as plaaslik

    Ten einde gesondheidsorgwerkers, en veral geneeshere, te probeer behou, het die minister en die raad die volgende stappe aangekondig: Suid-Afrika het met die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap, die Afrika Unie, die Wêreld Gesondheidsorganisasie en meeste Westerse lande ooreengekom om nie professionele gesondheidswerkers van ontwikkelende lande te werf nie.

    Tweedens het die minister van Gesondheid ook op regeringsvlak ooreenkomste aangegaan met die gesondheidsministers van Kanada en die Verenigde Koninkryk dat hierdie twee lande nie geneeshere van Suid-Afrika sal werf nie; en derdens het die raad ook aangekondig dat pogings aangewend word om Suid-Afrikaanse geneeshere te probeer teruglok met onder andere kwytskelding van uitstaande registrasiegelde. Hiermee is reeds ’n mate van sukses behaal.


    | TERUG NA BO |

---oooOooo---

  • In die jaarverslag het die raad ook bekendgemaak dat 2 700 klagtes tydens die vorige jaar oor die gedrag van geneeshere ontvang is. Daar word ook gemeld dat alle moontlike stappe oorweeg word om onprofessionele gedrag deur geneeshere te voorkom. Die mening word uitgespreek dat die vereiste ten opsigte van voortgesette professionele ontwikkeling (VPO) ’n belangrike bydrae lewer in dié verband.

    Die Raad oorweeg ook om ’n program in te stel waarvolgens ’n geneesheer, wanneer hy skuldig gevind is aan onprofessionele gedrag, beoordeling van sy professionele kundigheid en vaardigheid moet ondergaan alvorens hy toegelaat word om weer te praktiseer.


    | TERUG NA BO |

---oooOooo---

  • Die raad ontvang gereeld klagtes dat geneeshere wat nog besig is met internskap of gemeenskapdiens, of selfs mediese studente, gebruik word as lokums deur privaatgeneeshere of selfs in staatsinrigtings. Die raad het in reaksie hierop weer beklemtoon dat niemand as lokum mag diens doen as hy nie aan die volgende drie vereistes voldoen nie:

    1. Hy of sy moet by die raad as geneesheer geregistreer wees wat mag praktiseer in ’n onafhanklike praktyk;
    2. Sy of haar naam moet teenwoordig wees op die register van die raad;
    3. Hy of sy moet nie geskors wees om te mag praktiseer nie

Die raad waarsku dan ook dat wanneer ’n geneesheer of ’n staatshospitaal
’n lokum wil aanstel baie seker gemaak moet word dat die persoon aan bogenoemde drie vereistes voldoen.

| TERUG NA BO |

---oooOooo---

  • Dit is algemeen bekend dat daar in Suid-Afrika ernstige tekorte van werkers bestaan in bykans alle sektore van gesondheidsorg en veral wat geneeshere betref.

Nadat die raad ’n opname gemaak het, is besluit op ’n aantal stappe wat geïmplementeer word om die tekorte die hoof te bied. Die raad het die volgende besluite geneem:

  1. Die aantal geneeshere wat jaarliks opgelei word moet verdubbel word van 1 200 tot 2 400;
  2. Die aantal kliniese assistentposte by al die akademiese hospitale moet met 58% vermeerder word;
  3. Die maksimum getal geneeshere wat nodig is in landelike gebiede moet behou en verkry word;
  4. Geneeshere wat buite Suid-Afrika praktiseer moet oorreed word om terug te keer.

Die raad spreek dan ook kommer uit dat om bogenoemde maatreëls te implementeer nie maklik sal wees nie.

| TERUG NA BO |

---oooOooo---

  • Dinge bly maar deurmekaar by die Raad op Gesondheidsberoepe sedert die nuwe bedeling in werking getree het. In vorige nuusbriewe is berig dat die vorige minister van Gesondheid die wet so gewysig het dat die raad nie meer deur mediese- en tandheelkundige praktisyns verkies word nie maar dat die minister die lede volgens haar (en nou sy) keuse aanstel.

Die registrateur of uitvoerende beampte, advokaat Mkhize wat, na bewering,goed bevriend was met minister Tshabalala-Msimang, het in sy pos aangebly maar toe skielik aan die begin van 2010, te midde van baie gerugte en bespiegeling, bedank. ’n Buitestaander, me Marella O’Reilly is as waarnemende registrateur aangestel en vir amper een-en-’n-half jaar was dit redelik rustig. Dit het gelyk asof sy bevoeg is en haar werk goed doen; maar toe bars die bom: sy is skielik in 2011 geskors en kan moontlik dissiplinêr verhoor word. Die rede vir haar skorsing word aangegee as “kontraktuele ongerymdhede”.

Omdat sy slegs waarnemend was, het die raad besluit om advokaat Boikanyo, hoof van die regsafdeling, as registrateur aan te beveel vir aanstelling deur die minister. Die aanbeveling is aan die minister van Gesondheid, dr Aaron Motsoaledi, deurgegee maar hy het egter teen Boikanyo besluit en wel vir dr Kgosi Letlape, ’n voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging, as tydelike registrateur aangestel.

Advokaat Boikanyo het gemeen dat dit sy reg is om in die pos aangestel te word en het ’n hofbevel aangevra dat die minister beveel word om hom in ooreenstemming met die raad se aanbeveling aan te stel. ’n Regter het egter sy aansoek van die hand gewys. Boikanyo het glo appèl aangeteken teen die uitspraak maar dit is nog nie bekend wat daarvan geword het nie.

| TERUG NA BO |

---oooOooo---

  • Ernstige vrae word gevra oor die bevoegdheid en of die etiese verantwoordbaarheid van sekere geneeshere, na aanleiding van die toestaan van parool aan die veroordeelde Shabir Shaik, en nou weer die hantering van die gewese polisiekommissaris, Jackie Selebi.

    In Shaik se geval het twee spesialis geneeshere bevind dat hy terminaal siek is as gevolg van hipertensie en amperse blindheid. Hulle het aanbeveel dat hy op parool vrygelaat moet word om waardig tuis te sterf.

    Toe joernaliste vasstel dat hy rondry en gholf speel, het twee dokters na bewering ’n klag by die RGB gelê waarin gevra is dat die betrokke twee geneeshere ondersoek word vir onprofessionele gedrag deurdat Shaik glad nie terminaal siek is nie. ’n Voorlopige komitee van die raad het Schaik se twee geneeshere gevra vir ’n verduideliking, waarop die komitee bevind het dat hulle nie onprofessioneel opgetree het nie en die saak is nie verder gevoer nie.

    Joernaliste het egter steeds die vraag gevra hoe dit moontlik is dat Schaik parool gekry het met figuurlik gesproke een voet in die graf maar so wonderbaarlik herstel het dat hy gholf kon speel en na bewering twee verskillende persone aangerand het.

    Soortgelyk was Selebi tuis en het voor die TV gesit toe hy die boodskap gekry het dat sy aansoek om teen sy skuldigbevinding te appelleer van die hand gewys is. Hy het glo daarop ineengestort en moes met ’n ambulans hospitaal toe geneem word. Daar is verklaar dat hy te siek is om in ’n tronksel aangehou te word. Later het sy geneesheer, ’n dr Heleen Bierman, volgens persberigte, verklaar dat Selebi aan kroniese nierversaking ly, dialise moet ondergaan en derhalwe in die hospitaal moet bly.

    Joernaliste vra nou weer die vraag: “Hoe is dit moontlik dat Selebi so skielik kroniese nierversaking kon ontwikkel het?”

    Die RGB is blykbaar nog nie versoek om die aangeleentheid te ondersoek nie.

    | TERUG NA BO |

---oooOooo---

  • Die twis in die farmaseutiese bedryf oor die pynmiddel Dekstro Propoksiefeen (DPP) duur nou al, na bewering, meer as 30 jaar. Die moontlike skadelike eienskappe van DPP is al dikwels in die VSA en Europese lande gedebatteer sonder dat eenstemmigheid bereik kon word. In 2010 het die “Food and Drug Administration” in die VSA dit weer met mening veroordeel en die gebruik daarvan in pynwerende middels verbied.

    In April 2011 het die Suid-Afrikaanse Medisyne Beheerraad (SAMB) besluit dat die middel skadelik is omdat dit hart aritmieë veroorsaak wat selfs aanleiding kan gee tot die dood. Dit is toe verbied. Adcock Ingram het appèl aangeteken teen die verbod omdat DPP ’n bestanddeel in drie belangrike pynmiddels is wat deur hulle bemark word, naamlik Synap Forte, Lentogesic en Doxyfene.

    Voordat Adcock se appèl afgehandel is, het die SAMB apteke teen DPP gewaarsku. Adcock het toe ’n hofbevel aangevra en in die hooggeregshof aangevoer dat hulle deur die SAMB se waarskuwing benadeel is. Die staatsprokureur het in Oktober 2011, sonder magtiging van die Nasionale Vervolgingsgesag, ’n skikking met Adcock aangegaan sodat hulle kon voortgaan om hulle middels te bemark. Toe die appèl in November 2011 voorkom het die regter die skikking egter tersyde gestel.

    Adcock Ingram beweer onder andere dat die formulering van DPP wat in die VSA verbied is, nie dieselfde is as wat in die middels wat hulle bemark gebruik word nie. Hulle het toe vir prof Jacques Snyman versoek om ’n proefreeks te doen om die veiligheid al dan nie van hulle middels te bepaal. Prof Snyman het ’n dubbel blinde oorkruis studie op 30 pasiënte van albei geslagte gedoen met gereelde EKG evaluasie. Hy het geen hartafwyking gevind nie en veral aandag gegee aan QTC tye wat selfs met hoër dosisse steeds normaal gebly het.

    Ketting apteke en groothandelaars verklaar dat hulle die betrokke middels op hul rakke hou maar nie verskaf nie, in afwagting op wat die SAMB se finale bevinding en beslissing gaan wees. Intussen is daar ook navorsers wat beweer dat DPP nie net gevaarlik is nie, maar ook geneigdheid tot gewoontevorming het.

    | TERUG NA BO |

---oooOooo---

  • Mammakarsinoom is aan die toeneem; wêreldwyd en ook in Suid-Afrika. Die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA) het onlangs bekendgemaak dat een uit elke 29 vroue in Suid-Afrika tans gediagnoseer word met kanker van die bors.

    Die Duitse maatskappy, Siemens, het ’n bewusmakingsveldtog van stapel gestuur om vroue aan te moedig en te herinner om hulle gereeld te laat ondersoek ten einde kanker van die bors so vroeg moontlik op te spoor. Siemens reël sedert Oktober 2010 gereeld ’n “Stap vir Kanker” dag. Stappers, en veral vroue, stap dan om fondse in te samel vir KANSA. Klem word daarop gelê dat as borskanker vroeg opgespoor word, kan dit geslaagd behandel word. ’n Gereelde mammogram, veral vir groot borste, word aanbeveel en ’n gereelde fisiese ondersoek deur die gesin se huisarts is ook baie belangrik.

    Belowende navorsing by die Karolinska Instituut in Swede is onlangs bekendgemaak; radiofrekwensie ablasie (RFA) wat reeds gebruik word in die behandeling van kanker van die lewer, niere en been word nou ook voorgestel as behandelingsmetode vir mammakarsinoom. Onder plaaslike verdowing word ’n dun naald elektrode met behulp van ultraklank monitering tot in die tumor in die vroulike bors gelokaliseer. ’n Elektriese stroom word dan deur die elektrode gestuur wat die tumor verhit tot 70° tot 90°C. Dit vernietig die tumorselle sonder om die omliggende weefsel te beskadig. Die dooie tumorweefsel bly oor as skadelose littekenweefsel.

    Die behandeling is veral geskik vir tumors kleiner as 2 cm. Die prosedure is nie pynlik nie en die pasiënt kan dadelik huis toe gaan. Sy word na ses en twaalf maande deur middel van ’n mammogram, ultraklank of MRI ondersoek geëvalueer en daarna jaarliks ten einde vas te stel of die tumor totaal vernietig is.

    Navorsers van die Karolinska Instituut het reeds drie reekse pasiënte behandel met groot welslae. Hulle voorsien dat hierdie behandeling oor vyf jaar moontlik die behandeling van keuse kan wees. Die enigste bekommernis is dat ’n tumor moontlik reeds uitgesaai het voordat RFA gedoen word.

    Die koste verbonde aan die opvolgondersoeke is ongelukkig hoog, veral ’n MRI ondersoek. Dit is egter steeds goedkoper en esteties meer aanvaarbaar as sjirurgie.

    | TERUG NA BO |

---oooOooo---

  • Die uitvoerende hoof van Netcare, dr Richard Friedland, het onlangs in die media kritiek uitgespreek oor wat hy genoem het, Suid-Afrika se argaïese gesondheidsorg. Hy was veral krities oor die hospitaalsorg van pasiënte en stel dit dat hospitale in Suid-Afrika eintlik “hoteldienste” lewer deurdat verantwoordelikheid nie geneem word vir kliniese gevolge by pasiënte nie.

    Hy verduidelik dan verder dat privaathospitale nie dokters in diens neem nie. Die hospitaal verskaf slegs al die fasiliteite maar aanvaar nie die kliniese risiko met pasiënte nie. Indien die hospitaal dokters sou in diens neem, soos in talle ander lande, dan neem die hospitaal die kliniese verantwoordelikheid vir pasiënte.

    Dr Friedland sê verder dat Netcare al tevore aan die regering voorgestel het dat hospitale toegelaat moet word om dokters in diens te neem. Hy pleit ook dat die Nasionale Gesondheidsversekeringskema dit sal aanvaar en instel.

    | TERUG NA BO |

---oooOooo---

  • ’n Mikrobioloog, dr Jennifer Coetzee van die Ampath Laboratorium in Centurion, het in Oktober 2011 ’n sogenaamde hoogs weerstandige “super kiem” geïdentifiseer. Dr Coetzee het die mikro-organisme, Klebsiella pneumoniae, geïdentifiseer wat ’n draer is van die ensiem genaamd die New Delhi Metallo Beta Laktamose. Hierdie organisme was verantwoordelik vir die dood van vier pasiënte in ’n hospitaal in Benoni. Die organisme is die eerste keer in New Delhi, Indië, geïdentifiseer en benaam. Sedertdien is die organisme in ’n hele paar gevalle in Pakistan, Kanada, die VSA en Brittanje geïdentifiseer, meesal in intensiewe versorgingseenhede. Dit het vrese laat onstaan dat die organisme ’n wêreldwye krisis kan veroorsaak.

    Dit lyk darem of die organisme gevoelig is vir Kolistien of Polimiksien B. Sommige intensiewe versorgingseenhede dien reeds hierdie middel voorkomend toe.

    | TERUG NA BO |

 


ANTWOORDVORM

Vul asseblief in en pos terug na A.G.V.

Ek stel belang om die Opknappingskursus op Vrydag 16 en Saterdag 17 Maart 2012, by te woon.

Naam
Med R. Reg. Nr
A.G.V. Lid Nr
Adres
Tel Nr
Faks Nr
Sel Nr
E-pos adres
   

 

| TUISBLAD | NUUS | KURSUSSE | ARTIKELS | KONTAK | LIDMAATSKAP |
| BELANGRIKE SKAKELS |


Webwerf ontwerp en onderhou deur Exodon • 012 993 3260 • 082 4995491• exodon@iafrica.com